Die swak vertoning van die kleiner partye in verlede week se verkiesing laat ’n groot vraagteken oor hul toekoms.

Die UDM, OD, VF+, die ACDP . . . noem maar op, het deur die bank ’n bloedneus gekry.

By dié groep klein partye kan die IVP nou ook gevoeg word.

Die party het gekrimp van 10,5% steun nasionaal in 1994 tot in die omgewing van vanjaar se 4%.

KwaZulu-Natal, waar die IVP tot 2004 geregeer het, is nou pens en pootjies in die ANC se kraal. Die IVP se oorblywende steun is in die noorde van die provinsie.

Dis ’n les vir enigiemand wat in die toekoms ’n party met ’n eng etniese grondslag wil begin.

Die VF+, ook etnies gefundeer, het effens beter as die ander kleines gevaar, maar Suid-Afrikaners in die buiteland het hom totaal verwerp. Ironies genoeg was dit die VF+ wat die lof opgeëis het vir die hofsaak wat Suid-Afrikaners in die buiteland kon laat stem.

Van die 9 857 buitelandse stemme het 7 581 aan die DA gegaan. Die VF+ het 270 gekry, heelwat minder as die ANC se 673.

Neem byvoorbeeld Afrikaans as amptelike taal. Dis in die Grondwet verskans. Een van die hoekstene van die DA en Cope se veldtogte was dat daar nie aan die Grondwet getorring moet word nie.

Wie gaan Afrikaans die beste beskerm?

Die VF+, wat skaars ’n bliep op die na-sionale radar maak, of byvoorbeeld ’n koalisie tussen die DA en Cope wat saam meer as 20% van die stemme het?
Me. Patricia de Lille van die OD en mnr. Bantu Holomisa van die UDM het van die PAC en die ANC weggebreek om hul eie partye met ’n mate van welslae te stig.

Albei is charismatiese leiers met ’n persoonlike aanhang. Verlede week is die mat onder hulle uitgepluk. Gaan hulle nie ’n groter impak in die DA of Cope hê nie?

Ondersteuners van die kleiner partye moet hulself afvra of hulle werklik waarde vir hul stem kry.

En die leiers van kleiner partye moet besin of hulle nie net ’n belemmering vir ’n kragtiger opposisie word nie.

Beeld- Suid Afrika
Apr 26 2009 08:51:01:653PM